Tshwane: Net 10c/km, vra blinde ysterman
2012-03-28 06:00
Seugnet Esterhuyse

Ná vier Ysterman-byeenkomste durf hy presies oor ’n maand weer die uitmergelende driekamp-kompetisie aan, maar dié keer doen hy dit vir blindes.

Mnr. Francois Jacobs (41) van Doornkloof, Centurion, wat blind gebore is, neem vanjaar deel ten bate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes (SANRB).

Jacobs neem sedert 2008 deel aan die Ysterman-kompetisie, waarin jy 42 km hardloop, 180 km fietsry en 3,8 km swem.

Mnr. Kevin Willemse (38) is Jacobs se spanmaat en sy oë tydens die kompetisie.

Tydens die hardloop-deel hou hulle ’n das vas, tydens die swem-deel word hulle met ’n tou verbind en die fietsry-gedeelte sal hulle op ’n tandem aflê.

“Ek wil my vorige tye verbeter, asook R22 580 vir die raad insamel met die 225,8 km wat ek tydens die dag sal voltooi,” het Jacobs gesê.

Hy vra mense om hom vir so min as 10c per meter te borg om dié bedrag te kan insamel. Die geld sal gebruik word om ander blindes en swaksiendes te bemagtig.

Die SANRB, ’n nie-winsgewende organisasie, bestaan reeds 83 jaar lank en dien as sambreel-liggaam vir meer as 100 ander blinde-organisasie in Suid-Afrika.

Me. Lindie van Zyl, kommunikasie-spesialis van die SANRB, het gesê die raad se hulpmiddele-sentrum trek swaar. Baie dienste wat die raad aan blindes en swaksiendes gelewer het, is weens ’n tekort aan geld gestaak.

“Die raad kan die meeste van die hulpmiddele wat blindes broodnodig, soos wit kieries, pratende horlosies en wekkers en sagteware wat ’n rekenaar in staat stel om te praat, nie meer aankoop nie omdat daar nie geldelike bystand van die regering is nie,” het Van Zyl verduidelik.

‘n Wit kierie kos R200. Dit kos R2 000 om ’n blinde persoon op te lei om ’n rekenaar te gebruik en ’n katarakoperasie sodat iemand weer kan sien, kos R2 500.

“Met die geld wat Francois (Jacobs) insamel kan ons ’n groot verskil in iemand se lewe maak.”

Jacobs het gesê hy wil nie dié sentrum moet sy deure sluit nie.

“Blindes word hier geleer hoe om alledaagse take te doen soos om jou stoof of mikrogolfoond te merk om dit te kan gebruik. Jy word ook geleer hoe om tandepasta op jou tandeborsel te sit en selfs jou klere bymekaar te laat pas,” het hy gesê.

– Diegene wat wil geld skenk, kan dít doen by http://www.doit4charity.org.za/fundraising/Francois.Jacobs.